Artikel

Kwesbare leerders van Estralita-spesiale skool is pionne in magstryd tussen vakbonde en Mpumalanga-onderwysdepartement, sê FEDSAS en SAOU in dringende hofaansoek

31/07/2023 - Fedsas


Kwesbare leerders van die Estralita Spesiale Skool in Mpumalanga word van hul grondwetlike reg op onderwys ontneem deur die optrede van lede van onder meer die vakbond Nehawu. En deur sy gebrek aan ingryping en leierskap is die Mpumalanga-onderwysdepartement aandadig aan hierdie skending van leerders se  regte.


Dit is die grondslag van ’n dringende hofaansoek deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en die Estralita-skoolbeheerliggaam.


“Arbeidsonrus by dié skool het in Mei verlede jaar al begin. Die situasie het sodanig versleg dat die skool vir die hele tweede kwartaal van vanjaar gesluit was omdat veral koshuisleerders nie die gespesialiseerde versorging kan ontvang wat hulle benodig nie,” sê me. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS, en mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, in ’n gesamentlike verklaring.


Estralita bied onderrig van graad R tot 6 vir leerders met ernstige intellektuele gestremdhede. Die skool huisves tans sowat 200 leerders tussen die ouderdomme van vyf en 21, met die meeste van die leerders wat in die skool se twee koshuise versorg word.


Skofwerkers weier egter onder meer om nag- en naweekskofte te werk. Die ernstige intellektuele uitdagings van die leerders verg die teenwoordigheid van minstens twee skofwerkers en ’n opvoeder tydens nag- en naweekskofte in die koshuise. “Indien voldoende personeel nie diens doen tydens skofte nie, kan dit lewensbedreigende gevolge vir hierdie kwesbare leerders inhou,” sê Van der Merwe en Klopper.


Die skoolbeheerliggaam,  FEDSAS en die SAOU het reeds herhaalde pogings aangewend om die situasie te beredder. Klagtes van die werkers behels onder meer vergoeding maar die Mpumalanga-onderwysdepartement is traag om te reageer. Hoewel die departement opdrag gegee het dat die skool vir die derde kwartaal moet heropen, is talle ouers steeds huiwerig om hul kinders skool toe te stuur omdat hulle nie die versekering het dat hul kinders die nodig sorg sal ontvang nie.


“Dit lyk asof die provinsiale onderwysdepartement verwag dat die skoolbeheerliggaam en personeel teen die werkers moet optree ten spyte daarvan dat die departement sélf die werkgewer is.  Baie van die leerders het reeds soveel onderrigtyd verloor dat dit onwaarskynlik is dat hulle dit vanjaar sal kan inhaal,” sê FEDSAS en die SAOU.


“Hoewel FEDSAS en die SAOU regsaksie as ’n laaste uitweg beskou, het dit duidelik geword dat ’n dringende hofinterdik die enigste uitweg is. Die skoolbeheerliggaam het ’n plig om die skool in samewerking met sy onderwysvennnote te bestuur. Dit is egter nie moontlik wanneer daar geen samewerking van ’n belangrike vennoot soos die provinsiale onderwysdepartement is nie.”


FEDSAS en die SAOU is dit ook eens dat hierdie situasie ’n ernstige gebrek aan toewyding tot die regte van leerders aan die kant van die provinsiale onderwysdepartement en die betrokke vakbonde ontbloot. “Kwesbare leerders word hier as pionne in ’n magstryd gebruik. En ongelukkig is die leerders die enigste verloorders. Ons kan nie toekyk dat dit gebeur nie en sal daarom alles in die stryd werp om toe te sien dat hierdie leerders se onderrig kan voortgaan in die veilige omgewing waarop hulle geregtig is.”


Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid