11/08/2025 - Fedsas
Geregtigheid is die grondslag vir hervorming van die onderwysstelsel – en hierdie hervorming moet op grondslagfase begin.
Dit is ’n kort samevatting van die kernboodskappe in toesprake deur die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, en oudhoofregter Raymond Zondo, wat albei gassprekers was op die 29ste kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (SAELA).
“Drie van FEDSAS se bestuurders dien op die uitvoerende komitee van SAELA en het ’n groot bydrae gelewer tot die organisering en versekering van die hoë profiel van die kongres,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). “Ons was ook betrokke as sessieleiers en het voorleggings gedoen oor uiteenlopende onderwerpe van die evolusie van onderwysreg en regulasies rondom daggagebruik tot skoolbeheerliggaamverkiesings en arbeidspraktyke.”
Deacon sê dit is duidelik dat albei gassprekers se begrip van onderwys verder strek as politiek. Regter Zondo het beklemtoon dat gemeenskappe eienaarskap van openbare skole moet neem. “Hierdie beginsel onderlê baie van die werk wat FEDSAS doen. Transformasie in onderwys is nie net rasgedrewe nie. Ons moet swak onderwys transformeer na gehalte-onderwys en afwesige gemeenskappe na aktiewe gemeenskappe.”
Deacon sê onderwys-rolspelers moet ook ag slaan op regter Zondo se vermaning dat basiese onderwys slegs aan die grondwetlike verpligting voldoen indien dit ook onderwys van gehalte is. “Die ‘basies’ verwys na die vlak van onderrig, nie die gehalte nie. Dieselfde geld vir onderwysamptenare se uitvoering van hul pligte in hierdie verband. Ons kan nie toelaat dat leerders in vervalle geboue en oorvol klasse skoolgaan nie.”
In aansluiting by regter Zondo se fokus op geregtigheid as grondslag vir transformasie in onderwys, het minister Gwarube ook klem gelê op toegang tot behoorlike hulpbronne om werklike hervorming te bewerkstellig. “FEDSAS verwelkom die minister se sterk fokus op veral grondslagfase-leer. Ons wil ook weer klem lê op toegang tot moedertaalonderrig in die vroeë fases van onderrig.”
Deacon sê sy kwartaallikse strategiese gesprek met minister Gwarube het ook tydens kongres plaasgevind. Dit is gevolg deur ’n vergadering met sleutelpersoneel van haar kantoor. “Hierdie gesprekke fokus altyd op die mees dringende onderwyskwessies. FEDSAS het versoek dat ’n proses van wetswysigings weer oopgestel word. Ons het ook ons ernstige kommer met die minister gedeel oor voldoende befondsing vir onderwys in 2026.” Deacon sê FEDSAS het groot waardering vir die minister se pogings om persoonlik by die kabinet en die president waarborge te kry dat die onderwyssektor broodnodige steun sal ontvang.
FEDSAS steun ook minister Gwarube se aankondiging van ’n kundige adviesraad – ’n groep onafhanklike spesialiste wat adviseer oor onderwysbeleid en wetlike hervorming, veral ten opsigte van grondslagfase-leer. “So ’n raad sal egter slegs waarde toevoeg indien daar geloofwaardige, ervare stemme om die tafel is, met geen politieke inmenging nie.”
Foto: Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, en me. Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, op die SAELA-kongres waartydens hul kwartaallikse strategiese sessie ook plaasgevind het.