19/03/2026 - Fedsas
Daar word baie gepraat oor leerders en wiskunde maar nie naastenby genoeg oor onderwysamptenare se berekeninge nie. Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die skoolbeheerliggaam-organisasie FEDSAS verduidelik dat die regering se somme oor skole glad nie klop nie.
Jannie kan 100 appels in twee mandjies dra. Hoeveel mandjies het Jannie nodig om 1000 appels te dra? Een, as jy die onderwysstelsel se formule gebruik.
Die jongste beskikbare data oor die onderwyslandskap wys dat Suid-Afrika tans 22 259 openbare skole en 2 507 onafhanklike skole het. Dit is 122 minder skole as ’n jaar gelede, terwyl daar in dieselfde tydperk 54 454 meer leerders by die stelsel gevoeg is.
Van die nege provinsies is daar slegs een wat vanjaar meer skole het as die vorige jaar, naamlik die Wes-Kaap, met agt bykomende skole. Die provinsie se leerdertal het met 3 608 toegeneem, maar daar is 1 186 opvoeders minder as ’n jaar gelede om die 1 212 282 leerders te bedien. Oor ’n tienjaarperiode het die Wes-Kaap effektief slegs 17 skole bygekry.
Die mees verstommende verhaal speel egter in Gauteng af. Dié provinsie se leerdertal het die afgelope jaar met 10 867 gegroei, maar daar is vyf skole minder as 12 maande gelede. Daar is darem 277 onderwysers meer om die kinders te onderrig. Oor ’n tienjaarperiode is daar egter 17 skole minder om die 2 340 853 leerders te bedien.
Gauteng het reeds die grootste gemiddelde skoolgrootte in die land – bykans dubbel so groot as die gemiddelde skool elders. Dit is ’n aanklag teen elke LUR wat die afgelope twee termyne gedien het. Die provinsie het eenvoudig nie genoeg nuwe skole gebou om by bevolkingsgroei en migrasie by te hou nie.
Wat openbare skole betref, het die landskap die afgelope dekade dramaties verander. Meer as 592 000 leerders het by die stelsel aangesluit, maar daar is 1 646 minder openbare skole. Verstedeliking en migrasie na provinsies met beter werksgeleenthede is twee van die belangrikste dryfvere agter hierdie tendens.
Onafhanklike skole sien die gaping
Hoewel die sektor vir onafhanklike skole steeds relatief klein is in vergelyking met die openbare stelsel, is die groeikurwe merkwaardig. Die sektor het die afgelope dekade van 1 786 skole na 2 507 gegroei. Dit is ’n toename van 721 skole in tien jaar, of meer as 70 nuwe skole per jaar.
Byna die helfte van hierdie skole is in Gauteng, waar die sektor die afgelope dekade met ongeveer 33% van 700 tot 931 skole gegroei het en tans 343 932 leerders bedien. Dit is veilig om te sê dat hierdie skole ’n belangrike rol speel om druk op die provinsie se onderwysstelsel te verlig.
Die Wes-Kaap het oor dieselfde tydperk 118 meer onafhanklike skole as tien jaar gelede, met ongeveer 22 850 leerders wat hierdie skole bywoon.
Dit is duidelik dat die onafhanklike skoolsektor ’n groeiende mark verteenwoordig wat aan ouers verskillende en dikwels ook bekostigbare opsies bied.
Befondsing van onderwys
Onderwys as breë funksie ontvang bykans 24% van die nasionale begroting van R2,67 triljoen, met basiese onderwys wat R344,7 miljard ontvang. Op papier lyk dit of die sektor goed befonds word, maar op provinsiale en skoolvlak beleef ons dikwels die teenoorgestelde.
Slegs sowat 7% van die onderwysbegroting bereik werklik die skoolhek in die vorm van ’n toelaag per leerder. Die oorblywende 93% van die begroting word aan salarisse en administratiewe uitgawes bestee. Dit plaas geweldige druk op skoolgemeenskappe, en veral ouers, om onderwys op skoolvlak behoorlik te befonds.
Die meerderheid provinsies sukkel om hul finansiële verpligtinge teenoor skole na te kom. In minstens ’n derde van die provinsies word ’n beduidende deel van die nuwe finansiële jaar se begroting gebruik om skuld van die vorige jaar te betaal.
Poste word nie gevul nie, of aanstellings word doelbewus vertraag om geld te spaar. Hoewel die direkteur-generaal van basiese onderwys onlangs ontken het dat daar ’n moratorium op nie-opvoederposte geplaas is, is die werklikheid dat hierdie poste eenvoudig nie gevul word nie.
Die kernprobleem is dat daar te veel amptenare in te veel administratiewe strukture is sonder dat hulle ’n daadwerklike bydrae tot die gehalte van onderwys op skoolvlak lewer. Groot bedrae word aan distrikstrukture en administrasie bestee, terwyl skole ’n tekort aan onderwysers en praktiese ondersteuning ervaar.
Die stelsel kan waarskynlik baie beter funksioneer met ’n kleiner maar meer bekwame provinsiale burokratiese struktuur, met groter kapasiteit en verantwoordelikheid op skoolvlak.
Swak bestuur en onbevoegdheid het baie provinsies in ernstige finansiële moeilikheid gedompel. Dieselfde mense wat die probleme geskep het, sal dit nie kan oplos nie. Om hierdie situasie reg te stel sal nuwe, dinamiese provinsiale leierskap verg wat met klein maar sterk kernspanne werklike verandering kan bring.
Die rol van skoolgeld
Daar is minder as 3 000 openbare skole uit die totaal van 22 259 oor wat nog skoolgeld kan hef. Selfs by hierdie skole mag ouers wat nie kan bekostig om te betaal nie, vir vrystelling van skoolgeld aansoek doen, met min of geen vergoeding deur die staat aan die skole.
Ouers wat wel skoolgeld betaal, en dit uit ná-belaste inkomste, dra jaarliks ongeveer R60 miljard by om skole operasioneel te hou. Die grootste deel van hierdie bydraes kom uit die middelklas, wat toenemend onder finansiële druk verkeer.
Die sogenaamde skoolgeld-skole val hoofsaaklik in kwintiel 4 en 5. Die staatstoelaag beloop slegs R920 per leerder per jaar vir kwintiel 4 en R315 per leerder per jaar vir kwintiel 5. Dit kom onderskeidelik neer op ongeveer R4,60 en R1,57 per leerder per skooldag. Sonder skoolgeld van ouers sou hierdie skole eenvoudig nie kan funksioneer nie. Bykomende, en voortdurend stygende, befondsing deur ouers is egter nie ’n volhoubare model nie.
As ’n bykomende R60 miljard per jaar nodig is, sou ’n moontlike afleiding kon wees dat basiese onderwys steeds met minstens 15% onderbefonds is. Maar dalk moet ons eerder vra hoeveel van die R60 miljard uit ouers se sak steeds nodig sou wees indien die bestaande R344,7 miljard beter bestuur word...
’n Stelsel ryp vir heroorweging
Baie van die huidige beleids- en finansieringsmodelle is verouderd en nie volhoubaar nie. Daar moet dringend besin word oor onder meer nuwe onderwysmodelle, ’n meer realistiese postevoorsieningsmodel, volhoubare finansieringsmodelle en veral die grootte en funksionering van die onderwysburokrasie.
As ons werklik ernstig is oor die toekoms van ons kinders, moet ons ophou om net meer geld in die stelsel te pomp en eerder begin fokus op dit wat werklik saak maak – meer skole, meer goeie onderwysers en meer kapasiteit waar dit die grootste verskil maak: in die klaskamer.
Dit is dalk tyd om kundiges in te roep om die somme weer te laat klop.