05/12/2025 - Fedsas
Skoolbeheerliggame het steeds die bepalende gesag rakende ’n openbare skool se taal- en toelatingsbeleid. Die Bela-wysigings bring nie skielike of drastiese veranderinge aan taal- of toelatingspraktyke nie. Daar is dus geen rede tot kommer oor opmerkings hieroor in die portefeuljekomitee oor basiese onderwys vroeër vandeesweek nie, sê die skoolbeheerliggaam-organisasie FEDSAS.
Die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, en haar departement het Dinsdag aan die komitee verslag gedoen. Die departement se hoofdirekteur van beplanning en toepassingsondersteuning, mnr. James Ndlebe, het aan LP’s gesê “voormalige Model C-skole” is voor in die ry vir die inwerkingstelling van die Bela-wet se omstrede taal- en toelatingsklousules.
“Mnr. Ndlebe se opmerkings was ongelukkig en onnodig en skep verwarring en paniek. FEDSAS veroordeel die wyse waarop die kommentaar in die parlement gemaak is, juis omdat dit spanning skep in ’n reeds sensitiewe omgewing,” sê dr. Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof van FEDSAS. Sy sê die verantwoordelike benadering is om te wag vir die finale regulasies oor toelating en skoolkapasiteit, wat uiteindelik die amptelike en bindende raamwerk sal vorm.
“Die Skolewet plaas ’n verantwoordelikheid op álle skole om hul taal- en toelatingsbeleid van tyd tot tyd te hersien – dit beteken nie noodwendig wysig nie. Die wet vereis ook nie dat beleid vir goedkeuring ingedien moet word nie; dit moet slegs ter insae beskikbaar wees. Die bevoegdheid om hierdie beleid te bepaal, bly volledig ’n funksie van die beheerliggaam. Die enigste uitsondering is dat sekere grondwetlike faktore by hersiening oorweeg moet word. Hierdie faktore is egter lank reeds deel van regspraak en goeie praktyk.”
Van der Merwe-Mocke sê die verwysing na “voormalige Model C-skole” deur onderwysrolspelers, drukgroepe en politici is egter problematies.
“Model C-skole bestaan al vir meer as 30 jaar nie. Dit word egter steeds as ’n soort sambreelterm gebruik om te verwys na veral enkelmediumskole met Afrikaans as onderrigtaal. Baie skole wat tans Afrikaans as onderrigtaal gebruik, het nie eens bestaan in die tyd van Model C-skole nie. Voorts is dit belangrik om te onthou dat daar destyds ook Model B-skole was met Afrikaans as onderrigtaal.”
Van der Merwe-Mocke sê die perspektief sal daadwerklik verander indien terme soos “funksionele” en “wanfunksionele” skole gebruik word. “In praktyk is dit dikwels die geval dat skole wat goed funksioneer die teiken raak vir goedkoop politiekery omdat hierdie skole gewoonlik eerste vol is. Ouers doen by hierdie skole aansoek om toelating omdat hulle die beste vir hul kinders wil hê.”
Wat sou die implikasies gewees het indien mnr. Ndlebe sou gesê het “funksionele skole word geprioritiseer vir die inwerkingstelling van die Bela-wet se taal- en toelatingsklousules”?
“Voormalige Model C-skole” is ’n politieke speelbal; “funksionele skole” is ’n vingerwysing na die tekortkominge in die onderwysstelsel, want dit impliseer die bestaan van "wanfunksionele” skole.
Van der Merwe-Mocke waarsku dat die werklike krisis in die onderwysstelsel nie by funksionele skole se taal- en toelatingsbeleid lê nie.
“Dit word gebruik om die aandag af te lei van die ernstige gebreke in die openbare onderwysstelsel. Dink maar aan die meer as 29 000 vakante poste, die miljoene rande wat provinsiale onderwysdepartemente aan die tesourie moes terugbetaal omdat die geld bloot net nie gebruik is nie, die swak beplanning en minagting van statutêre pligte wat veroorsaak dat skole wat reeds onderbefonds is met omtrent R6 per leerder per dag moet klaarkom.”
Van der Merwe-Mocke wys daarop dat enige optrede deur onderwyshoofde steeds administratiewe optrede is wat aan die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid onderworpe is. “Dit beteken dat alle besluite redelik, regmatig en prosedureel billik moet wees. Hierdie beginsels bied stabiliteit, selfs wanneer politieke uitsprake dit soms anders laat lyk.”
FEDSAS is altyd oop vir verantwoordelike gesprekke oor onderwysverbetering mits dit binne die raamwerk van die wet geskied en nie skole se regmatige bevoegdhede ondermyn nie.
“Ons verseker skoolgemeenskappe egter dat ons nie onregmatige optrede deur provinsiale onderwysdepartemente en onderwysamptenare sal duld nie. Of dit nou inmenging met taal- en toelatingsbeleid is of ondeurdagte postevoorsiening, FEDSAS sal nie huiwer om die nodige regsoptrede te oorweeg nie.”