Artikel

Nasionale dialoog: FEDSAS gaan om te kyk wie luister en wie praat

15/08/2025 - Fedsas


Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole is hierdie naweek daar vir die afskop van die nasionale dialoog. Met soveel organisasies wat reeds gesê het hulle gaan nie deelneem nie, staan FEDSAS nou soos die spreekwoordelike volstruis met sy kop in die sand? Of is dit dalk ’n geval van oor teen die grond? Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof, verduidelik.

          Ons land het baie swakpunte, maar een van ons sterkpunte is práát: konferensies en lekgotla’s hou, kommissies en taakspanne aanstel, en verslae en beleid produseer. Helaas, dit stop meestal hier, want ons het bitter min om te wys wanneer dit by aksie en implementering kom.

          Soos talle ander dink ek ook die nasionale dialoog gaan ’n groot en duur praatgeleentheid wees. Soos een van my oud-kollegas ná ’n “suksesvolle” vergadering met die ANC opgemerk het: “Julle weet, ons staan op die drumpel van ... ’n reuse-teleurstelling.”

          So, hoekom is FEDSAS hierdie naweek in Pretoria? Ons het net drie redes. Eerstens, daar gaan gepraat word, met of sonder ons. Ons gaan dus om onderwys hoog op die agenda te kry. Tweedens wil ons eerstehands hoor wat die plan (en begroting) vir die dialoog gaan wees sodat ons sinvol kan besin oor ons voortgesette betrokkenheid en die aard daarvan. En derdens wil ons vrae gaan vra oor waarom ons bestaande demokraties verkose strukture nie reeds voorsiening maak of ontvanklik is vir hierdie soort gesprekke nie.

          Politici sê graag dat onderwys die hele samelewing raak en dat ’n kind se opvoeding die plig van die hele gemeenskap is. It takes a village to raise a child. Maar met hierdie gemeenskap is daar groot fout...

          Die “village” is vervalle en vol slaggate met water en elektrisiteit wat af en toe beskikbaar is. Dit is onveilig met min sigbare polisie. Die kliniek kan dadelik herken word aan die lang rye verby die bossies en riool in die straat. Dis die derde langste ry in die dorp. Die tweede langste ry is by Binnelandse Sake, want die stelsel is weer “van lyn af”. Die langste ry is altyd by die staatstoelae, vir baie die enigste uitkoms. 

          Dit is onder hierdie omstandighede wat skole moet uitblink, geleenthede moet skep, die beste onderwysers moet werf en behou, en leerders veilig hou. Skole staan nie los van die verval van ons gemeenskappe nie. 

          Ons moet baie dringend praat oor die herstel van dorpe en stede, voldoende maatskaplike ondersteuning, behoorlike en professionele dienste aan gemeenskappe en goed versorgde openbare fasiliteite wat dit vir skole moontlik maak om sport- en kultuurgeleenthede vir ons kinders aan te bied. Ons het omgee-gemeenskappe nodig waar kinders ná skool sinvol en veilig versorg word of kan ontspan. 

          Die hartseerste hiervan is dat al die bostaande faktore wyd bekend is en daar al baie planne beraam is. Ons het nie nog praatgeleenthede nodig nie; ons het luistergeleenthede nodig. Verkose leiers wat aandagtig luister en die wilskrag het om iets te doen. Daardie “iets” kan begin met die ontslag van mense wat vir jare al aangestel is om die werk te doen en niks gedoen het nie. Dit gaan aksie beteken ... iets waarmee die huidige leierskap nie goed is nie.

          Indien ons nie gesien of gehoor gaan word nie, is ons enigste opsie om ons stemme in volgende jaar se munisipale verkiesing te gebruik en die kruisies die praatwerk en slaanwerk te laat doen.

          Ons het nie by die punt van ’n nasionale dialoog gekom omdat mense nie praat nie; ons is hier omdat mense nie wil luister nie. FEDSAS gaan daar wees, want wat as die nasionale dialoog – tans teen alle verwagtinge in – ’n groot en duur luistergeleentheid is?

Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid