Artikel

Internasionale erkenning vir FEDSAS met ondertekening van memorandum van verstandhouding met belangrike Europese onderwysorganisasie

26/11/2024 - Fedsas


FEDSAS se status as internasionale rolspeler in die onderwyssektor het vandeesweek verder verhoog met die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding met die European Federation of Education Employers (EFEE). Dié sambreelorganisasie verteenwoordig onderwyswerkgewers op alle vlakke van onderwys in Europa, van voorskools tot op tersiêre vlak. Lede sluit in nasionale organisasies soos onderwysministeries en rade van onder meer kolleges en universiteite tot plaaslike en streeksowerhede. Die EFEE het sowat 60 lede wat 27 Europese lande verteenwoordig.

“Hierdie ooreenkoms is nie net vir FEDSAS van groot waarde nie; die hele vasteland sal voordeel trek uit nouer samewerking met die Europese onderwyssektor,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole. Deacon het die aanvoorwerk vir hierdie strategiese ooreenkoms reeds ’n jaar gelede begin doen toe hy as spreker na die EFEE se kongres in Slovenië genooi is. Sedertdien het die organisasies reeds oor en weer aanlyn-opleidingsessies bygewoon en hulpbronne en materiaal gedeel.

“Ons is baie opgewonde om ons informele samewerking nou amptelik te maak. Die EFEE se doelwitte en aktiwiteite stem baie ooreen met dié van FEDSAS, naamlik om gehalte-onderrig en skoolbeheer te bevorder. Dit is ’n organisasie met hoëvlak-inspraak as amptelike Europese sosiale vennoot in onderwys en as amptelike dialoogvennoot vir instansies van die Europese Unie.”

Die EFEE se sekretaris-generaal, dr. Daniel Wisniewski, was die gasspreker op FEDSAS se gala-dinee wat die afgelope naweek (22 November 2024) in Bloemfontein plaasgevind het. In sy toespraak het Wisniewski gesê dat die organisasie lank reeds sy betrokkenheid in Afrika wou uitbrei. “In FEDSAS het ons nou ’n vennoot gekry wat dieselfde doelwitte en benadering as die EFEE het. FEDSAS se kundigheid bring ’n ander perspektief na onderwysbestuur en skep ontwikkelingsmoontlikhede vir albei organisasies.”

Deacon sê die EFEE toon veral belangstelling in FEDSAS se publikasie oor die toepassing van die King-beginsels van goeie beheer in skole. “Ons is tans besig met ’n voorlegging vir ’n projek oor skoolbeheer- en bestuur en ondersoek ook moontlikhede vir die onderskeie organisasies se personeel om internasionale blootstelling te kry.”

Deacon sê ’n groot prioriteit is die vestiging van ’n wêreldorganisasie vir skoolbeheerliggame en onderwyswerkgewers. “So ’n organisasie sal op internasionale vlak ’n verteenwoordigende stem by die VN en sy agentskappe kan wees.” 

FEDSAS bevorder al vir meer as drie dekades gehalte-onderwys vir alle kinders in Suid-Afrika. “Dit is ’n wonderlike geleentheid om ons kundigheid en ervaring buite ons landsgrense te deel, om ons te meet aan internasionale beste praktyke en om weer terug te ploeg in ons eie onderwyssektor.”

* Op die gala-dinee in Bloemfontein het FEDSAS ook erkenning gegee aan verskeie diensverskaffers, organisasies en persone wat bydra tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse onderwyssektor:

  • Ann Morton (skoolhoof van die Pineland North Primary School in Kaapstad) en Kobus Buitendag (skoolhoof van Arboretum Primary School in Richardsbaai) is vereer vir onder meer die passie waarmee hulle onderwys by hierdie skole bevorder en hoe die twee skole internasionaal presteer het. Morton was ook die gasspreker by FEDSAS se algemene jaarvergadering op 23 November 2024.  Sy het idees gedeel oor hoe ’n suksesvolle skool bestuur word. 

  • Saskia Meijer (Pretoria FM) en Pieter Steyn (RSG-inhoudsbestuurder) is vereer vir hul bydraes om media-platforms te skep vir gesprekke oor onderwyskwessies.

  • Johan Smith (Vita Amp), Manie Botha (Brain Tribe) en Joyce Ras (Capability2Lead) is vereer vir onder meer hul bydrae tot die welstand van FEDSAS se personeel en hul landwye betrokkenheid by skole en onderwys.

  • Riaan Wagener (Memory Creator) en Willem Kitshoff (D6Ed) is vereer vir hul bydraes tot onderwystegnologie en tegniese steun aan FEDSAS.

  • Marius van Rensburg (Horn & van Rensburg Prokureurs) is vereer vir sy wesenlike bydrae tot die vorming van onderwysreg.

Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid