26/06/2025 - Fedsas
In brandpuntgemeenskappe waar kinders dikwels slagoffers is, moet skole “koel” ruimtes wees weg van die vlamme van geweld. FEDSAS verwelkom dus die protokol vir veilige skole (Safe Schools Protocol) wat vandeesweek deur die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, bekendgestel is. Dié ooreenkoms tussen die SAPD en die Departement van Basiese Onderwys is daarop gemik om toenemende geweld in en om skole te takel deur onder meer groter sigbare polisiëring en gekoördineerde veiligheidsmaatreëls by hoërisiko-skole.
“Ons steun die uitgangspunt dat ’n skool nie die gevare van die gemeenskap waarin dit geleë is, moet weerspieël nie. Ons skole moet veilige toevlugsoorde wees,” sê Daniëlla van Heerden, kommunikasiebestuurder van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
“Minister Mchunu is reg wanneer hy sê daar moet geen misdaad-brandpunte in Suid-Afrika wees nie. Maar terwyl ons na daardie groter doelwit beweeg, moet ons daarop aandring dat skole reeds beskutte ruimtes moet wees. As ’n gemeenskap deur bendegeweld of misdaad geteister word, moet die skool die één plek wees waar ’n kind veilig in die biblioteek kan gaan lees of op die skoolgrond kan speel sonder vrees.”
FEDSAS erken dat daar kritiek mag wees oor die ontplooiing van polisielede na skole, en dat sommige mag aanvoer dat dit skole soos oorlogsgebiede kan laat lyk. “Ons verstaan daardie bekommernis,” sê Van Heerden, “maar dit is ook belangrik om die siening uit te daag dat polisieteenwoordigheid noodwendig beteken iets is verkeerd. Die polisie moet nie as ’n bedreiging of simbool van geweld gesien word nie, maar as beskermers van openbare veiligheid. Hulle teenwoordigheid by skole moet stabiliteit en gemoedsrus uitstraal, nie vrees nie.”
Volgens FEDSAS lê ’n deel van die uitdaging daarin om die narratief te verander. “Wanneer leerders polisielede op hul skoolterrein sien, moet hulle voel hulle word beskerm eerder as dopgehou. Die SAPD en Minister Mchunu se plig is om toe te sien dat hul sigbaarheid ’n gevoel van veiligheid skep, eerder as agterdog,” verduidelik Van Heerden. "’n Onderwyser moet weet daar is ’n polisielid naby sou hulle onveilig voel. ’n Leerder moet weet dat hul skool ’n plek van vrede is selfs al woon hulle in ’n onveilige gemeenskap.”
Vir FEDSAS is skoolveiligheid alle rolspelers se verantwoordelikheid. Dit sluit nie net polisiebystand in nie, maar ook die versterking van skoolleierskap, effektiewe beheerliggame en ’n gesonde verhouding tussen skole en hul gemeenskappe, insluitend plaaslike wetstoepassers.
"Dit is kernbelangrik dat skoolbeheerliggame verantwoordelikheid aanvaar en sorg dat die voorgestelde funksies van ? veiligheidskomitee in werking gestel word in die beheerliggaam se strukture," sê Van Heerden. "Skole moet egter self oor die aard en samestelling besluit na gelang van die skoolgemeenskap se unieke behoeftes. Dit plaas die klem ook weer op die gemeenskap wat eienaarskap van openbare skole moet neem en betrokke moet wees. Ons het per slot van sake openbare skole en nie staatskole nie!"
FEDSAS doen ook ? beroep op die SAPD en skoolgemeenskappe om skole gedurende die skoolvakansie op te pas. "Misdadigers teiken skole gedurende skoolvakansies. Geld wat vir ander skoolaktiwiteite geoormerk was, moet dan vir herstelwerk gebruik word.”
As deel van sy voortgesette verbintenis tot skoolveiligheid, sal FEDSAS insette versoek van sy uitgebreide nasionale netwerk van skole en beheerliggame rakende die implementering van die protokol. “Ons glo werklike verandering vind plaas wanneer skoolgemeenskappe deel is van die oplossing,” sê Van Heerden.