04/12/2024 - Fedsas
Daar moet dringend meer openbare skole gebou word, veral in Gauteng en die Wes-Kaap; skole in die Oos-Kaap loop leeg; en die middelklas befonds ’n groeiende persentasie van onderwysers en ander personeel by openbare skole. Dit is van die belangrikste bevindings in FEDSAS se “Onderwys in syfers”-verslag. Die verslag bied ’n omvattende analise van die Departement van Basiese Onderwys se data van 2009 tot 2023.
“FEDSAS het hierdie reuse-projek van stapel gestuur omdat ons standpunt is dat goeie en betroubare data help om goeie besluite te kan neem. Die data help ons om tendense te sien, merkers te wees en ook rigtingwysers vir besluitnemers. Die data is kernbelangrik vir veral besluite oor die volhoubaarheid van sekere praktyke,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole.
“Dit is duidelik dat die Departement van Basiese Onderwys se data-insameling en -hantering die afgelope 14 jaar verbeter het. Dit is egter moontlik dat inligting uit sekere periodes of streke onakkuraat kan wees,” sê mnr. Riaan van der Bergh, adjunkhoof van FEDSAS en bestuurder van FEDSAS se Sentrum vir Tegnologie en Sentrum vir Finansies en Risikobestuur.
Van der Bergh sê die verslag wys duidelike tendense uit wat die grondslag moet vorm vir datagedrewe besluitneming. “Een van die belangrikste bevindinge is dat daar nie oor die afgelope 14 jaar genoeg nuwe skole op die regte plekke gebou is om die groei in die aantal leerders te akkommodeer nie. Baie van die huidige uitdagings in skole is direk verwant hieraan.”
Daar was ’n styging van 7% in die aantal leerders sedert 2009, met meer as 12 700 000 leerders wat tans in 22 511 openbare skole onderrig word deur byna 455 000 onderwysers.
“Die prentjie in veral die Wes-Kaap en Gauteng is selfs meer kommerwekkend. In die Wes-Kaap is daar nou bykans 289 000 leerders meer as in 2009. In Gauteng het die leerdertal sedert 2009 met sowat 725 000 gegroei. ’n Gemiddelde skool in Gauteng het nou meer as 1100 leerders, wat amper twee keer groter is as die nasionale gemiddeld. Tog is daar die afgelope dekade slegs vyf nuwe skole in Gauteng gebou.”
Van der Bergh sê in die Oos-Kaap gebeur die teenoorgestelde. Sedert 2009 het meer as 650 skole in hierdie provinsie gesluit en die totale getal leerders het met meer as 300 000 gedaal. Daar is gemiddeld 466 leerders in openbare skole in die Oos-Kaap.
Die behoefte aan nuwe skole op die regte plekke word onderstreep deur die groei in die getal onafhanklike skole. Landwyd is daar tans byna 740 000 leerders in 2325 onafhanklike skole. “In Gauteng is 31% van alle skole onafhanklike skole. Daar is ook groot groei in die Wes-Kaap en Limpopo. Die toename in onafhanklike skole verskans tot ’n mate die gebrek aan openbare skole in sekere gebiede. Sonder hierdie skole sou die druk op openbare skole in byvoorbeeld Gauteng onhoudbaar geraak het.”
Terwyl die aantal leerders 7% meer is, is daar slegs ’n skamele 1% meer onderwysers. “Dit plaas natuurlik baie druk op skole se finansies. Die getal onderwysers wat deur skoolbeheerliggame betaal word, het van 23 756 in 2009 toegeneem tot 44 015. Dit is meestal belastingbetalers uit die middelklas wat hierdie finansiële las dra.”
Die verslag wys voorts uit dat daar in graad 11 en 12 ’n skerp afname in die aantal manlike leerders is. “Terwyl dit ooreenstem met die Wêreldbank se statistieke vir lande in Afrika suid van die Sahara, is dit belangrik om vas te stel watter redes daar hiervoor is.”
Van der Bergh sê in die lig van debatte oor die impak wat aspekte van die Bela-wet moontlik op veral Afrikaanse skole kan hê, het FEDSAS spesifiek gekyk na data oor Afrikaanse skole. “Daar is nog nie genoeg data hieroor nie, maar dit lyk asof Afrikaanse leerders toenemend migreer vanaf Afrikaans-enkelmediumskole na meertalige skole, insluitend skole wat glad nie onderrig in Afrikaans bied nie. Eerder as ’n tendens, kan hierdie inligting gesien word as ’n beginpunt om moontlike scenario’s vir die toekoms te oorweeg.”
Uiteindelik gaan dit oor die beste van belang van elkeen van die meer as 13 miljoen leerders in openbare en onafhanklike skole in Suid-Afrika. “Wetgewing, politieke retoriek en gesprekke in die media verander nie die werklikheid van die data nie. Pleks van ideologiese argumente en politieke agendas, het ons betroubare data nodig om te beplan vir ons kinders se toekoms. FEDSAS se navorsing gee aan almal van skoolbeheerliggame tot beleidsmakers op nasionale vlak toegang tot hierdie inligting.