Artikel

FEDSAS oor BELA-wet: ‘Ons máák dit werk, maar sal optree teen magsmisbruik’

11/09/2024 - Fedsas


Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het reeds vroeër vanjaar aangedui dat die organisasie met die gewysigde weergawe van die Wysigingswet op Onderwyswette, of BELA, kan werk omdat dit duidelike spelreëls bevat en prakties uitvoerbaar is.

“Ek kan met gesag sê FEDSAS is deeglik vertroud met elke jota en tittel van hierdie wetgewing. Die organisasie was selfs voor die eerste publikasie by die prosesse betrokke. Ons was teenwoordig by al 26 van die portefeuljekomitee se sessies vir openbare deelname en by 37 van die provinsiale sessies. FEDSAS het voorleggings in die parlement gedoen en was in etlike vergaderings betrokke,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.

 “Dit is egter te verstane dat daar heelwat spanning by skole en beheerliggame is. Verandering bring onsekerheid maar ook geleenthede en FEDSAS het deur die jare bewys dat steun aan beheerliggame wat deur die troebel waters van onsekerheid vaar een van die organisasie se sterkpunte is. Ons benadering tot die veranderinge wat BELA gaan meebring, is om goeie opleiding te verskaf, maar ook om op te staan vir ons lede se regte, insluitend deur regsaksie waar nodig.”

FEDSAS se kundigheid oor onderwysreg en veral steun aan skoolbeheerliggame word internasionaal gereken. “By FEDSAS pas ons aan om te presteer, nie om te oorleef nie. Ons is proaktief en het reeds BELA-opleidingsprogramme beskikbaar. Ons regsafdeling het ook die wetgewing en moontlike gevolge in diepte bestudeer.” 

Deacon sê sukses in die 21ste eeu vereis aanpasbaarheid. “Ons leer ons kinders dat sukses bepaal word deur hoe ons aanpas by onvoorspelbare situasies. Nou het ons die geleentheid om die daad by die woord te voeg.”

Aanpasbaarheid moet nie gesien word as gelate aanvaarding nie. “Ons is tevrede dat beheerliggame steeds hul skoene kan volstaan in terme van hul verpligtinge. Deur FEDSAS se landwye netwerk het ons behoorlike kennis van hoe onderwys op voetsoolvlak verskil van onderwys in die gange van die parlement. Ons sal dus uiters waaksaam wees om so vinnig as moontlik op te tree indien daar enige onregmatige optrede van staatsamptenare is. FEDSAS was nog nooit bang om die hof te nader indien nodig nie en behou ook nou die reg voor om bepalings van die wet uit te daag indien nodig.”

Deacon sê beheerliggame moet weet dat onderwyshoofde nie skielik onbeperkte magte het nie. “Veral wat taal en toelating betref, is daar ’n aantal vereistes wat nagekom moet word voordat departemente skoolbeleid mag verander. Daar is ook reeds ’n proses aan die gang om regulasies op te stel om kapasiteit in skole te bepaal en FEDSAS is deel van hierdie proses. Skole mag nie bloot aangesê word om hul taalbeleid aan te pas en bykomende leerders in te neem nie. En indien dit gebeur, staan FEDSAS se regspan gereed.”

FEDSAS doen ’n beroep op die Minister van Basiese Onderwys om BELA-opleiding aan amptenare ’n prioriteit te maak om magsmisbruik en boeliegedrag teenoor skole en personeel te voorkom.

Deacon sê FEDSAS is wel teleurgesteld dat die president nie die organisasie se petisie gunstig oorweeg het en nog veranderinge aan die konsepwet laat aanbring het nie. “Ons wil eerder ’n versterking in die vennootskapsmodel sien as wat dit afgewater word. Insette van die Regering van Nasionale Eenheid is ’n uitstekende geleentheid vir samewerking en ons versoek dat die president die opsie dringend sal oorweeg.”

“Sodra dit onderteken is, is die BELA-wet ’n werklikheid. Die rol van bekwame en behoorlik opgeleide beheerliggame is belangriker as ooit. FEDSAS se reeds omvattende opleidingsaanbod is ‘BELA’-gereed. So ook ons regspan. Ons verbintenis tot ons lede en uiteindelik tot die bevordering van gehalte-onderrig vir alle kinders is steeds ons kernbesigheid.”


Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid