09/04/2026 - Fedsas
Die onderwyshoof in Noordwes se besluit om die taal- en toelatingsbeleid van die Swartruggens Gekombineerde Skool te wysig is deur ’n dringende tussentydse hofinterdik gestop.
Die skool is twee dae voor die begin van die skooljaar vanjaar ingelig dat die Noordwes-onderwysdepartement gedurende die Desember-skoolvakansie verlede jaar 78 bykomende leerders by die skool geplaas het. Die besluit is geneem sonder enige vooraf-konsultasie soos voorgeskryf deur die gewysigde Skolewet en met geen bykomende hulpbronne aan die skool nie.
In reaksie het die skoolbeheerliggaam-organisasie FEDSAS die Swartruggens Gekombineerde Skool se beheerliggaam ondersteun met ’n dringende hofaansoek waarin die hof versoek is om die provinsiale onderwysdepartement te verplig om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom voordat die skool ? proses kan begin om bykomende leerders by die skool toe te laat.
“Die uitspraak is ’n sterk eerste oorwinning in die saak. Die Skolewet stel dit duidelik dat beleid oor taal en toelating die funksie van die skoolbeheerliggaam is. Hierdie hofuitspraak is daarom ’n belangrike bevestiging dat ’n provinsiale onderwyshoof nie eensydig die skool se beleid kan verander of omseil nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.
Deacon sê die uitspraak bepaal uitdruklik dat enige wysiging aan ’n skool se taal- of toelatingsbeleid geen regseffek het nie tensy en totdat so ’n wysiging formeel deur die beheerliggaam ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet aanvaar is.
Die hof het die Noordwes-onderwysdepartement ook opdrag gegee om dadelik die nodige infrastruktuur, personeel, veiligheid- en ander ondersteuning aan die Swartruggens Gekombineerde Skool te voorsien om die bykomende leerders tydelik te akkommodeer.
“Die uitspraak is van besondere belang omdat die hof nie net tussentydse beskerming toegestaan het nie, maar ook ’n streng interdik gegee het wat die provinsiale onderwysdepartement verplig om dringend op te tree,” sê dr. Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof van FEDSAS en die organisasie se hoof van regsdienste.
Die Swartruggens Gekombineerde Skool is ’n Afrikaans-enkelmediumskool maar die skool en skoolbeheerliggaam was ten gunste van die toelating van die bykomende leerders, wat onderrig in Engels ontvang, mits die provinsiale onderwysdepartement skriftelike bevestiging kon gee dat die nodige hulpbronne verskaf sou word en dat die voorgeskrewe konsultasieprosesse plaasvind in ooreenstemming met die gewysigde Skolewet.
Een van die uitdagings is dat die skool reeds sy goedgekeurde kapasiteit bereik het. Boonop het onafhanklike infrastruktuur- en veiligheidsverslae ook ernstige probleme met infrastruktuur uitgewys, veral rakende die toestand van die skoolsaal.
“Die skoolsaal is gedeeltelik ’n houtstruktuur wat in ’n haglike toestand is. Die bykomende leerders is tot dusver in die skoolsaal geakkommodeer en die hof het uitgewys dat dit ’n onmiddellike bedreiging vir die veiligheid van die leerders inhou,” sê Van der Merwe-Mocke.
Die Noordwes-onderwysdepartement moet nou die nodige infrastruktuur en ander ondersteuning voorsien sonder dat dit enige koste vir die skool meebring. Die hof het verder toesighoudende jurisdiksie behou en die provinsiale onderwysdepartement is verplig om binne vasgestelde tydraamwerke aan die hof verslag te doen oor die vordering.
Van der Merwe-Mocke sê hoewel die 78 leerders voorlopig by die skool aanbly, het die hof dit duidelik gemaak dat die provinsiale onderwysdepartement nie bloot net leerders by ’n skool kan plaas nie. “Oorweging moet geskenk word aan behoorlike beplanning, voldoende hulpbronne, veilige infrastruktuur en respek vir die skool se kapasiteit en statutêre rol.”
Die tweede gedeelte van die hofaansoek sal later aangehoor word. “In Deel B vra die skoolbeheerliggaam vir die hersiening en tersydestelling van die departement se besluit om die leerders by die skool te plaas. Daar sal ook verder oor koste geargumenteer word. ’n Persoonlike kostebevel is teen die Noordwes-onderwyshoof gevra. Dis ’n eenvoudige beginsel: kinders, skole en belastingbetalers kan nie gedwing word om die prys te betaal vir die nalatige, onredelike of roekelose optrede van staatsamptenare nie,” sê Van der Merwe-Mocke.
Volgens Deacon stuur die uitspraak ’n duidelike boodskap dat die staat aanspreeklik gehou kan en moet word wanneer hy versuim om sy grondwetlike en statutêre pligte behoorlik na te kom. “Dit bevestig ’n breër beginsel in die onderwys: verantwoordbare staatsoptrede, behoorlike beplanning en respek vir die wetlike rol van beheerliggame is nie onderhandelbaar nie. Skole en beheerliggame is geregtig op beskerming waar departemente eensydig optree sonder voldoende oorweging van kapasiteit, veiligheid en hulpbronne.”
Deacon sê die uitspraak is uiteindelik ook ’n groot oorwinning vir kinders. “Dit bevestig dat die beste belang van kinders nie gedien word deur oorhaastige, eensydige of onbeplande besluite nie, maar deur veilige, ordelike en regmatige onderwysbestuur.”