Artikel

FEDSAS in 2024: Só skep ons geleenthede

23/11/2024 - Fedsas


Aan uitdagings was daar vanjaar in Suid-Afrikaanse onderwys geen tekort nie. Tussen skoolbeheerliggaamverkiesings, die vorming van die Regering van Nasionale Eenheid en ’n nuwe onderwysminister, die BELA-wet, kommer oor besnoeiing van poste en ander finansiële uitdagings, ’n herrie oor die “koop” van spelers vir skolesport en al die gewone jakkalsies in die wingerd wonder ’n mens hoe gehalte-onderrig steeds daagliks plaasvind.

 Vir die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole is die antwoord eenvoudig. “Ons hou aan om geleenthede te skep,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS. “Sommige geleenthede skep ons self; ander kom oor ons pad in die vorm van uitdagings. Aanpasbaarheid en vernuwing is net moontlik indien dit jy ’n gewoonte vorm om geleenthede raak te sien. Dit is juis wat ons aan die voorpunt van innovering in die onderwyssektor plaas en ook waarom FEDSAS ’n invloedryke en gerekende rolspeler in die sektor is.”  

Woorde is een ding, maar FEDSAS het ook ’n lang lys aktiwiteite, projekte en ander bedrywighede as bewys van die organisasie se toewyding tot sy doelwit van gehalte-onderrig vir alle kinders in Suid-Afrika. “FEDSAS het vanjaar ver en wyd gereis om betroubare raad en bystand aan lede te bied. Sommige van ons standpunte oor belangrike kwessies was nie oral ewe gewild nie maar is gebaseer op deeglike oorweging en kundigheid.”

FEDSAS se lede is die beheerliggame van skole. Die ledetal is uiteenlopend en verteenwoordig die volle spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing. “Om seker te maak dat ons al ons lede se belange dien, berus die FEDSAS-benadering op samewerking met ’n verskeidenheid rolspelers. Ons het byvoorbeeld kort ná haar aanstelling reeds met die nuwe Minister van Onderwys, Siviwe Gwarube, vergader. Ons kon haar inlig oor ons werksaamhede en die belange van ons lede, maar ons kon ook ons kundigheid en ervaring aanbied om te help waar nodig. Ons werk gereeld saam met regsbeamptes van die SAOU en ons het ook strategiese vennootskappe met onder meer AngloAmerican, SADTU en die Royal Bafokeng-instituut wat ons voetspoor verder uitbrei.”

FEDSAS het ’n voetspoor in al nege provinsies met ’n ledetal van byna 2000. FEDSAS-personeel het meer as 190 000 km gereis vir skoolbesoeke, opleidingsessies en meer as 250 vergaderings met provinsiale onderwysdepartemente. Die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesings het ook vanjaar plaasgevind. FEDSAS het ná die verkiesing 589 opleidingsessie aan nuwe beheerliggame aangebied. Meer as 14 000 beheerliggaamlede het die sessies bygewoon. Ook nie-lede is betrek deur 16 sessies waarby meer as 100 skole betrokke was.

Nadat die BELA-wet in September onderteken is, het FEDSAS voortgegaan om insette te lewer oor veral die omstrede klousules oor taal- en toelatingsbeleid. Die organisasie het egter ook dadelik met BELA-opleiding begin en 14 provinsiale sessies oor die wetgewing is reeds aangebied. Die provinsiale sessies en ook verskeie aanlynsessies het byna 7000 mense bereik. Die sessies is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) aangebied.      

Om die omgewingsimpak van die derduisende kilometers teen te werk, asook om toeganklikheid te verhoog, word ook toenemend van aanlyn-geleenthede gebruik gemaak. Meer as 15 000 mense het vanjaar vir ’n verskeidenheid aanlynsessies geregistreer.     

Terwyl die syfers indrukwekkend is, is dit die uitkomste en impak wat werklik deurslaggewend is. FEDSAS se voorstelle oor die verkiesingsregulasies vir skoolbeheerliggaamverkiesings is in die reg opgeneem. In Noordwes is onwettige prosesse rondom aanstellings en in Gauteng eensydige en geforseerde kapasiteitsbepalings stopgesit. In Limpopo is vergoeding van skoolfondsvrystelling aan skole betaal. 

FEDSAS se Sentrum vir Finansies en Risikobestuur is steeds betrokke by die hersiening van die formule waarvolgens kwytskelding van skoolfonds bepaal word. “Ons navorsing wys dat daar slegs sowat 3000 skole in kwintiele 4 en 5 oor is wat skoolfonds hef. Finansies bly ’n groot uitdaging in skoolbestuur. Die bekendstelling van ons Sakpasgids vir Skoolbegrotings is juis daarop gemik om skoolbeheerliggame hiermee te help.” 

Ook op ander terreine het FEDSAS vanjaar geleenthede geskep. Met die insluiting van Kodering en Robotika in die skoolkurrikulum, het FEDSAS se Sentrum vir Tegnologie vanjaar bestaande hulpbronne uitgebrei om skole by te staan met die implementering van die nuwe vakke. Op die gebied van emosionele en maatskaplike welstand het FEDSAS ’n vennootskap met die forensiese maatskaplike werker Miranda Cussons gesluit om handleidings vir welstand en beradingsdienste in skole te ontwikkel. 

Nog ’n handleiding wat vanjaar bekend gestel is, is Beheer in onafhanklike skole: ’n Handleiding oor die toepassing van die King-beginsels in onafhanklike skole, ’n aangepaste weergawe van die oorspronklike publikasie vir openbare skole. FEDSAS het ’n tydjie gelede die organisasie se kundigheid en omvattende hulpbronne aan onafhanklike skole beskikbaar gestel. Sedertdien sluit al meer onafhanklike skole by die organisasie aan en twee mini-berade vir hierdie skole is vanjaar aangebied. 

“Uiteindelik lê die werklike waarde opgesluit in ons mense. Agter elke syfer en lysie is daar passievolle mense wat die belange van ons lede werklik ter harte neem. FEDSAS is ’n mense-organisasie met mense as lede en vennote. Maar die belangrikste hiervan is dat ons doen en late ’n invloed op kinders het. Ons neem hierdie verantwoordelikheid baie ernstig op.”

Deacon sê FEDSAS se planne vir volgende jaar is reeds gereed. “Dit sluit ook in hoe ons planne sal maak vir die onbeplande! Vernuwing en aanpassing is egter slegs moontlik omdat die organisasie ’n grondslag van gevestigde en beproefde praktyke oor meer as drie dekades gelê het. Die visie van die mense van die verlede maak van ons die mense van die hede wat die vermoë het om te bou aan die toekoms van die mense van môre.”  


Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid