Artikel

FEDSAS: Verval in openbare onderwysstelsel bereik nuwe laagtepunt

01/10/2025 - Fedsas


’n Donker jaar lê voor vir openbare onderwys in Suid-Afrika. 

          In vyf provinsies weet openbare skole nog nie hoeveel onderwysposte hulle vir 2026 van die staat gaan ontvang nie, terwyl daar ernstige tekortkominge is in die provinsies waar skole reeds hul postevoorsiening ontvang het.

          “Openbare skole moet elke jaar voor of op 30 September hul postevoorsiening vir die volgende jaar ontvang. Die datum is nie lukraak nie. Trouens, ’n 2011-hofbevel in FEDSAS se guns beskryf dit as ’n ‘onbuigbare sperdatum’,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

          “Onsekerheid heers weens onderwysamptenare se onvermoë om te voldoen aan, en in sommige gevalle blatante minagting, van statutêre prosesse. Regulasies bepaal dat openbare skole hul begrotings vir die nuwe jaar voor die einde van die huidige skooljaar finaliseer. Dit is egter onmoontlik indien skole nie weet hoeveel onderwysposte beskikbaar is nie.”

            Hierdie nuutste verwikkeling volg op ’n jaar waarin die nasionale departement van basiese onderwys onder hewige kritiek deurgeloop het met die nuus dat derduisende poste vakant was. In feitlik al nege provinsies het skole ook nie betyds hul wetlike verpligte oordragbetalings van provinsiale onderwysdepartemente ontvang nie. 

          “FEDSAS het in April vanjaar ’n hofaansoek teen die hoof van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement by die hooggeregshof ingedien nadat die departement versuim het om die 2025-posvoorsieningsnorme betyds uit te reik. Toe dit uiteindelik aan skole gekommunikeer is, het sommige skole onverwags poste verloor. Die skooljaar was toe al ’n paar maande aan die gang,” sê Deacon.

FEDSAS het op 19 September vanjaar briewe aan al nege provinsiale onderwysdepartemente gestuur om hulle te herinner aan die sperdatum en die regulasies. In vier provinsies, Limpopo, Noordwes, Vrystaat en die Wes-Kaap, het skole wel betyds hul postevoorsienings ontvang. In verskeie provinsies is daar boonop glad nie ingevolge regulasies met beheerliggaamorganisasies gekonsulteer nie. 

          Asof dit nie erg genoeg is nie, stuur die implementering van die verpligte graad R op ’n ramp af. “Uit FEDSAS se opname is dit duidelik dat daar nie behoorlik voorsiening gemaak word vir graad R nie. Toe die president die BELA-wet onderteken het met volle implementering, is hy oënskynlik verkeerd ingelig oor die gereedheid wat graad R betref. Die stelsel is eenvoudig nie gereed nie en die poste-proses bewys dit.”

          Die verval in die openbare onderwysstelsel is só kritiek dat FEDSAS ’n paar maande gelede ’n klag teen agt provinsiale onderwysdepartemente by die Menseregtekommissie ingedien het. “Die trajek is in die verkeerde rigting en dit lyk nie of die Minister van Basiese Onderwys die nodige ondersteuning vanuit die nege provinsies het nie. Trouens, dit lyk eerder asof die minister beheer verloor het. Onderwysamptenare steur hulle nie aan statutêre prosesse nie en daar is geen gevolge vir amptenare, onderwyshoofde en LUR’e wat oortree nie.”

          FEDSAS doen ’n dringende beroep op die minister om in te gryp en seker te maak dat skole voor die begin van die skoolvakansie Vrydag (3 Oktober 2025) ingelig word oor hoeveel poste hulle vir 2026 gaan hê. “Daar moet ook gevolge vir nie-nakoming wees. Ons het nou ’n minister nodig wat bereid is om in beste belang van die kinders van die land op te tree.”

Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid