Artikel

Die stil man waaroor almal praat: FEDSAS se Woeras Grobler tree af ná dekades se diens aan die onderwys

18/08/2016 - Fedsas


Ware leiers dóén, hulle praat nie. Daarom sal jy nie sommer hoor dat Woeras Grobler oor homself praat of hoegenaamd sy eie beuel blaas nie. Sy benadering het dié lang, stil man in staat gestel om diep spore in onderwys in Suid-Afrika te trap.

Mnr. Woeras Grobler (74) het onlangs afgetree ná dekades in die onderwys en later as Noord-Kaap-bestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Dwarsdeur sy loopbaan is dit sy leierskapsvaardighede wat hom van ander onderskei het. Nie dat hy dit self sal vertel nie, nee, daarvoor moet jy met diegene gesels wat saam met hom gewerk het. “Woeras is ’n waarlik unieke mens wat met sy blote teenwoordigheid respek afdwing,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Die organisasie se uitvoerende hoof, mnr. Paul Colditz, stem saam: “Hy is ’n man van min woorde, maar baie insig. Hy benader elke uitdaging deur rustig te kyk en te luister voordat hy ’n besluit neem. En hierdie besluite is gewoonlik in die kol, nie net vir daardie bepaalde situasie nie, maar dikwels ook vir ’n breër toepassing.”

Dis sy grootwordjare saam met sy broer en suster op ’n plaas naby Thaba Nchu in die Vrystaat wat hom geleer het om die groter prentjie te sien en te verstaan hoe die deeltjies saam die groter geheel vorm. Net voordat hy skool toe is, het die gesin na ’n plaas naby Hobhouse verhuis. “Ons is bevoorreg dat die plaas steeds in ons besit is. Wanneer ek die geleentheid kry, gaan kuier ek om sommer net die vryheid te geniet,” vertel Woeras.

Ná skool, eers op Hobhouse en toe later die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, is Woeras na Kovsies vir ’n B.Sc. Landbou-graad en toe ’n hoëronderwys-diploma. “En toe het ek dadelik begin skool hou by Welkom-Gimnasium. Ek kan nie eintlik sê hoe ek van landbou af in die onderwys beland het nie. Al wat ek kan dink, is dat dit so voorsien was.”

Van Welkom af is Woeras terug na sy alma mater, die Hoërskool Hobhouse, en toe weer terug Welkom-Gimnasium toe. Nog skole wat die voorreg van ’n Woeras Grobler-teenwoordigheid gehad het, is Staatspresident Swart op Brandfort, waar hy ’n departementshoof was, Louw Wepener, waar hy sy eerste blootstelling as waarnemende skoolhoof gehad het, en toe Bloemspruit, sy eerste volwaardige pos as skoolhoof. Hy het uiteindelik afgetree as skoolhoof van die Hoërskool Dr. Viljoen in Bloemfontein.

Vir Woeras behels skool meer as net die ure wat die kinders by die skool deurbring. “Kinders kom dikwels uit baie moeilike omstandighede. Vir my was dit belangrik dat ons as onderwysers hulle emosioneel en andersins ondersteun sodat hulle ook ’n staanplek in die lewe kan kry.” Sy invloed spreek uit die feit dat voormalige leerders hom vandag nog kom groet wanneer hulle hom sien. “Ek moet hulle altyd eers vra om te verduidelik hoe ek hulle ken en waar ek vir hulle skoolgehou het,” spot hy met homself.

Gelukkig vir onderwys het Woeras se aftrede as skoolhoof nie die einde van sy betrokkenheid by die sektor beteken nie. In 2003 het FEDSAS hom genader om dié organisasie se bestuurder in die Noord-Kaap te word. Dit het gelei tot ’n tweede loopbaan. “Dertien wonderlike jare,” is hoe hy dit beskryf.

Van die Noord-Kaap het hy aanvanklik niks geweet nie. “Ek het nie ’n enkele mens geken nie, ook nie die skole en die dorpe nie. Maar ek het gou kennis gemaak met die beroemde Noord-Kaapse gasvryheid. Vandag is daar talle goeie vriende en vertrouelinge en dit was vir my ’n voorreg om saam met hulle te werk.”

Woeras sê sy werk by FEDSAS het van hom ’n ryper mens gemaak. “Trouens, ek dink ek moes dalk eers vir FEDSAS gewerk het voordat ek ’n skoolhoof geword het – dink net watter verskil ek dan sou gemaak het!”

Onderwys in Suid-Afrika verskil heelwat van toe Woeras as jong onderwyser begin het. “Toe was alles gestruktureerd en almal het geweet wat van hulle verwag word. Vandag is daar veel meer onsekerheid en veranderinge vind plaas sonder dat dit behoorlik gedefinieer word.” Dit is hier waar Woeras se vermoë om ’n situasie te ontleed aan die hand van die groter prentjie handig te pas kom. Sy voorstelle vir die huidige rolspelers in onderwys sluit onder meer beter basiese vaardighede vir opvoeders én leerders in. “Dit sluit dissipline ook in. Wanneer ’n onderwyser weet hoe om homself te handhaaf, sal leerders outomaties meer respek hê.” Nog ’n uitdaging is die gebrek aan ondersteuning wat skole van amptenare ontvang. “’n Mens kry soms die idee dat amptenare daarop uit is om fout te vind eerder as om te bou aan die vertrouensverhouding tussen werknemer en werkgewer. Deur samewerking sal ons veel meer bereik.”

Intussen kan Woeras bereik word by sy aftreehuis by Kenton-on-Sea. “Dit is baie lekker!” is sy kort, maar kragtige opsomming. Hier doen hy graag houtwerk en maak seker dat hy elke Sondagaand sy vier kinders en drie kleinkinders bel. “As ek net ’n bietjie laat is, doen hulle navraag om te hoor of daar fout is!”

Tussendeur hou hy ’n ogie oor wat aangaan in die onderwys. “Ek volg ook FEDSAS se bedrywighede met groot belangstelling. Wat ’n voorreg is dit nie om deel te wees van die FEDSAS-familie.”

Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid